Wednesday, July 3, 2013

HOE STERKER DIE KARRIE, HOE SWAKKER DIE WIL

So op die stert van die Worsfees, dink ek vandag aan die Karriefees. Meer aan Karrie. Ons het grootgeword met Karrie. Dis 'n moeilike ding vir ‘n kind is om te aanvaar dat hy nie soveel as wat hy wil van die lekkerte mag drink nie.

Dit is natuurlik altyd te kosbaar om sommer net op te gebruik – enersyds oor jy hom net kan maak wanneer jy heuning kry, andersyds omdat ‘n goeie bottel karrie inderdaad ‘n waarde ver bo korale het. Nie dat karrie sommer kan sleg smaak nie. Dis soos my pa altyd van vrouens sê: “Daar bestaan nie ‘n lelike vrou nie, maar party is nóg mooier as ander.”  En party stooksels karrie is nóg lekkerder as ander.

Derdens beter jy karrie nie sommer net wegsluk nie, al kan jy kan eintlik nie anders nie, want dis so lekker. Maar jy beter nie nóg een wegsluk nie. In hierdie streek hoef jy niemand te vertel hoe karrie jou kan klap nie.

Ek het oral in die land gewoon en gewerk en was nooit hier rond wanneer dit Karriefees was nie. Ek lees in Jozua Serfontein se boek, “Tsitskamma: Stories oor sy mense en dié kontrei”(*), dat dit ook die idee was van Miekie Strydom, vader van die Worsfees, wat in 1991 die goeie plan gekry het om ‘n karriefees te hou.

Verder lees ek dat Johan Kemp, van die Tsitskikamma , die eerste Karriekoning in 1992 was. (Ek sien Oom Johan het ook skoolgegaan op Witelsrivier Laerskool, waar ek my skooljare begin het). Oom Johan was Oom Hendrik Boland, van Kwaaibrand, seun en was ons buurman aan die oorkant van Elandsrivier.

Ek kan goed glo hy was karriekoning. My pa vertel nou nog graag hoe Oom Johan sy eie karrie aangeprys het. Na ‘n teugie, hou hy die glas so voor hom en maak dan trots die uitspraak: “Sterker as die sterkste brandewyn!”

Ek was dikwels ooggetuie dat dit inderdaad sterker as die sterkste brandewyn was. As my pa ‘n draai by Oom Johan gemaak het, was hy in die moeilikheid as hy by die huis kom – en duidelik swakker as die karrie. Al raad, vir die moeilikheid en vir die swakte, was reguit bed toe... Karrie maak 'n mens kennelik vaak.

In Serfontein se boek lees ek ook ‘n staaltjie van hoe plaaswerkers skelm karrie in pampoene gestook het en die boer nooit kon uitvind hoe hulle dit regkry om ongesiens in die pampoenland getrek te raak nie. Tot ‘n vark dit eendag nie meer kan hou nie en uit die hok breek en reguit na die pampoen van die oomblik pyl. Vark kon na die smulsessie nie die kant van die land haal nie en het op sy hurke in die pampoenland bly sit.

Ek het ook ‘n storie oor karrie, met ‘n vark in die verhaal. Ek was net so twee jaar oud, toe ons op ‘n plaas buite Port Elizabeth gewoon het, en daar was varke en daar was karrie. My ouers het ‘n stywe paraffienblik vol karrie aan die gang gehad, toe hulle die nuus kry dat Oupa en Ouma van Tsitsikamma kom kuier. Hulle het nie gehou van alkoholiese drank nie en die nuus van die kuier het groot konsternasie in ons huishouding veroorsaak, met die gevolg dat die blik karrie toe gou-gou vir die gelukkige varke gevoer is.

En daar sit hulle toe ook op hul hurke in die hok. Lekker getrek, en baie amoreus as gevolg daarvan, maar kan met die beste wil en voornemens ter wêreld nie opstaan nie.

(*) Serfontein, Jozua. 2006. Tsitsikamma: Stories oor sy mens en dié kontrei. Observatory: Lotsha Publications. “Karrie”, pp. 263-282.

No comments:

Post a Comment