Saturday, June 8, 2013

NAGMAAL TOE MET DIE OSSEWA

My pa - Sollie Kemp, wat nou 84 is - het in die Tsitsikamma grootgeword. Toe ons klein was, het hy ons baie stories vertel, onder andere van hoe hulle met die ossewa uit die Tsitsikamma na Kareedouw gekom het vir nagmaal.

Ek het hom weer daaroor uitgevra, want ek sit hier met Jozua Serfontein se boek oor die Tsitsikamma (sien Voetnota 1), waarin ek in die hoofstuk "Kareedouw en sy mense" lees hoe die onstaan van Kareedouw om die kerk geskied het. Dit het my eie herinnneringe aan die ou stories wakker gemaak. Serfontein het my pa se uitgawe van sy boek geteken op 27 Oktober 2006 en daarby geskryf: " Met my beste wense en lekker herinneringe van lank gelede."
Photo: Laurette's Photoblog
(http://laurette.aminus3.com/)

Dit raak al hoe langer gelede. My eie herinneringe raak ook al hoe langer gelede. Ek was vanaf Sub A (wat laankal Graad I geword het) tot Standerd 2 in Laerskool Witelsrivier, by Kwaaibrand in die Tsitsikamma (wat toe nog met 'n "z" gespel was). Sedertdien het ons van pond na rand en kilogram oorgeslaan en het Ceylon na Sri Lanka verander. Ek wil nie eens praat van al die straat- en plekname in die land wat verander het nie

Herinneringe het egter nie 'n einde nie. My pa vertel hulle het elke drie maande vier dae afgestaan het om met die ossewa Kareedouw toe te kom vir die nagmaalgeleentheid. My oupa het vir bosbou gewerk, maar bosbouwerknemers, wat normaalweg ook Saterdae gewerk het, het ook afgekry. Witte Strydom-hulle (Miekie en Francois se pa) het met muilewaens vanaf Brandekraal uit die Kouga gekom. Ander het met donkiekarre gekom.


Dit was 'n hele uittog. Vrydag vanaf die plaas by Elandsrivier - met die melkkoei genaamd Vrydag ook ingespan saam met die osse (swart en wit vlekke, skraal ou koeitjie, nie eintlik sterk nie, maar sy moes ook trek, want sy moes saam vir melk). Hoenderhokke is onderaan die wa vasgebind om te sorg vir vleis vir die naweek.

Daar is oornag uitgespan in die laagte net voor jy oor die berg gaan. Saterdagoggend word die laaste steilte met vars uitgeruste osse aangepak. Die korter skof het tyd gelaat om kamp in te rig vir die naweek en inkopies doen op Kareedouw. Die waens het in die nagmaalbos agter die kerk en kerksaal uitgespan. Die naweek had 'n vol program: Saterdagaand was voorbereidingsdiens, Sondagoggend kinderdiens in die kerksaal, dan nagmaaldiens in die kerk, en Sondagaand die nabetragtingsdiens.

Maar dit was nie al nie. Daar is hoenders geslag en karrie gedrink. Daar is gekuier. Klink my daai nagmaalnaweke kon goed kers vashou by ons feeste wat vandag oral so gewild is. Geen wonder Miekie weet hoe om 'n worsfees (sien Voetnota 2) te hou nie. Sy voorsate het reeds klein-klein geleer hoe.

Elria van Rooyen se pa, Job Kemp, was toe ook nog maar 'n knapie en my pa vertel hoe Job en sy maters skelm die karrie bygekom het wanneer die grootmense in die nagmaaldiens was. 'n Mens kan jou net voorstel watter kattekwaad al die kinders by so 'n saamtrek uit heinde en verre aangevang het.

Die terugtog is Maandagoggend aangepak en moes in een dag afgelê word, want plaaswerksaamhede moes hervat word en Dinsdag  moes die bosboumense weer by die werk inval.

VOETNOTAS:

(1)  "Tsitsikamma - Stories oor sy mense en die kontrei", deur Jozua Serfontein (Lotsha Publications, Polostraat 58, Observatory, 2006. ISBN 1-920133-05-40).

(2)  Die Worsfees word jaarliks rondom Augustus gehou in die hoofstraat by Altelekker.

2 comments:

  1. Hallo daar. Stories wat ek onthou van my pa-hulle se vertellinge. Ek sal baie graag met jou wil kontak maak. My pa-hulle het op Plaas Kwaaibrand grootgeword en ons haak vas by my oupa sover dit ons familie stamboom aangaan.
    Groete
    Helena
    my e-pos : helena.roux98@gmail.com

    ReplyDelete
  2. Hi Helena. Ek was ook in Laerskool Witelsrivier in die dae van Juffrou Betsie, Annemarie, Meneer De Meillon, Breunissen en Ou Mnr Louw Aucamp. Het ook Oom Hendrik (Boland) Kemp en Gert Du Preez en die Steffense geken. Miskien kan ek help. Gert Kemp.

    ReplyDelete