Wednesday, July 17, 2013

DIE RUSSE HOU KAREEDOUW DOP

Die Suid-Afrikaners is mos altyd bewus van 'n groot gevaar. Daar was altyd die spook van Engeland. Ons het as kinders grootgeword met stories van konsentrasiekampe en heldeverhale van hoe die Boere die Britte in die Anglo-Boereoorlog ore aangesit het. Later was daar die Rooi Gevaar en jy moes pasop as jy effens anders optree, want dan is jy sommer 'n kommunis en tel onder die samelewing se vyande.

Die Swart Gevaar vleg ook deur ons vrese. Hopelik verwerk almal in die land die verwante vrese, vergrype en verwyte tot die reënboog wat in die toekoms lok en slaan Suid-Afrika die politieke boerpot in die vorm van die mistieke pot goud wat mens bly ontwyk.

Ek is egter bekommerd oor die Russe. Hulle lees ons onder die stof hier op die blog. As jy 'n blog het, is jy mos statistiek-verskrik en loer geduring hoeveel mense lees dit. Wel, die helfte van die lesers sit oorsee - en die meeste van hulle in Rusland.

Nou deel ek maar die Suid-Afrikaanse helfte van my lesers in twee en raai optimisties die een helfte is darem van Kareedouw en omstreke. Sal laasgenoemde helfte my kan sê hoeveel mense van hierdie omgewing hulle in Rusland bevind?

Sit daar dalk 'n Russiese spioen met 'n skootrekenaar op die bergspits? Is die pot goud hier by ONS?

Of sou "kareedouw" op Russies klink soos "kaal vrou" en almal wat gretig daarvoor google verkeerdelik en tot hul teleurstelling op my blog land...

No comments:

Post a Comment