Monday, July 22, 2013

DIE KLIPHOTEL COUNTRY STORE BLOM BY MISGUND

Vir diegene wat nog nie gaan kyk het wat by die Kliphotel Country Store by Misgund aangaan nie - hier is 'n paar foto's om julle lus te maak. Onthou om daar aan te gaan wanneer julle weer met die R62 deur die Langkloof ry. Die spyskaart laat jou bek water. Die koffie is tops. Ek gaan weer, dis vir seker.


Klere uit Nepal
Interessante ware.
Kunstige badkamers.
Kyk uit vir die opstal op linkerkant as jy van
Kareedouw se kant af op reis is.


Wednesday, July 17, 2013

DIE RUSSE HOU KAREEDOUW DOP

Die Suid-Afrikaners is mos altyd bewus van 'n groot gevaar. Daar was altyd die spook van Engeland. Ons het as kinders grootgeword met stories van konsentrasiekampe en heldeverhale van hoe die Boere die Britte in die Anglo-Boereoorlog ore aangesit het. Later was daar die Rooi Gevaar en jy moes pasop as jy effens anders optree, want dan is jy sommer 'n kommunis en tel onder die samelewing se vyande.

Die Swart Gevaar vleg ook deur ons vrese. Hopelik verwerk almal in die land die verwante vrese, vergrype en verwyte tot die reënboog wat in die toekoms lok en slaan Suid-Afrika die politieke boerpot in die vorm van die mistieke pot goud wat mens bly ontwyk.

Ek is egter bekommerd oor die Russe. Hulle lees ons onder die stof hier op die blog. As jy 'n blog het, is jy mos statistiek-verskrik en loer geduring hoeveel mense lees dit. Wel, die helfte van die lesers sit oorsee - en die meeste van hulle in Rusland.

Nou deel ek maar die Suid-Afrikaanse helfte van my lesers in twee en raai optimisties die een helfte is darem van Kareedouw en omstreke. Sal laasgenoemde helfte my kan sê hoeveel mense van hierdie omgewing hulle in Rusland bevind?

Sit daar dalk 'n Russiese spioen met 'n skootrekenaar op die bergspits? Is die pot goud hier by ONS?

Of sou "kareedouw" op Russies klink soos "kaal vrou" en almal wat gretig daarvoor google verkeerdelik en tot hul teleurstelling op my blog land...

Wednesday, July 3, 2013

HOE STERKER DIE KARRIE, HOE SWAKKER DIE WIL

So op die stert van die Worsfees, dink ek vandag aan die Karriefees. Meer aan Karrie. Ons het grootgeword met Karrie. Dis 'n moeilike ding vir ‘n kind is om te aanvaar dat hy nie soveel as wat hy wil van die lekkerte mag drink nie.

Dit is natuurlik altyd te kosbaar om sommer net op te gebruik – enersyds oor jy hom net kan maak wanneer jy heuning kry, andersyds omdat ‘n goeie bottel karrie inderdaad ‘n waarde ver bo korale het. Nie dat karrie sommer kan sleg smaak nie. Dis soos my pa altyd van vrouens sê: “Daar bestaan nie ‘n lelike vrou nie, maar party is nóg mooier as ander.”  En party stooksels karrie is nóg lekkerder as ander.

Derdens beter jy karrie nie sommer net wegsluk nie, al kan jy kan eintlik nie anders nie, want dis so lekker. Maar jy beter nie nóg een wegsluk nie. In hierdie streek hoef jy niemand te vertel hoe karrie jou kan klap nie.

Ek het oral in die land gewoon en gewerk en was nooit hier rond wanneer dit Karriefees was nie. Ek lees in Jozua Serfontein se boek, “Tsitskamma: Stories oor sy mense en dié kontrei”(*), dat dit ook die idee was van Miekie Strydom, vader van die Worsfees, wat in 1991 die goeie plan gekry het om ‘n karriefees te hou.

Verder lees ek dat Johan Kemp, van die Tsitskikamma , die eerste Karriekoning in 1992 was. (Ek sien Oom Johan het ook skoolgegaan op Witelsrivier Laerskool, waar ek my skooljare begin het). Oom Johan was Oom Hendrik Boland, van Kwaaibrand, seun en was ons buurman aan die oorkant van Elandsrivier.

Ek kan goed glo hy was karriekoning. My pa vertel nou nog graag hoe Oom Johan sy eie karrie aangeprys het. Na ‘n teugie, hou hy die glas so voor hom en maak dan trots die uitspraak: “Sterker as die sterkste brandewyn!”

Ek was dikwels ooggetuie dat dit inderdaad sterker as die sterkste brandewyn was. As my pa ‘n draai by Oom Johan gemaak het, was hy in die moeilikheid as hy by die huis kom – en duidelik swakker as die karrie. Al raad, vir die moeilikheid en vir die swakte, was reguit bed toe... Karrie maak 'n mens kennelik vaak.

In Serfontein se boek lees ek ook ‘n staaltjie van hoe plaaswerkers skelm karrie in pampoene gestook het en die boer nooit kon uitvind hoe hulle dit regkry om ongesiens in die pampoenland getrek te raak nie. Tot ‘n vark dit eendag nie meer kan hou nie en uit die hok breek en reguit na die pampoen van die oomblik pyl. Vark kon na die smulsessie nie die kant van die land haal nie en het op sy hurke in die pampoenland bly sit.

Ek het ook ‘n storie oor karrie, met ‘n vark in die verhaal. Ek was net so twee jaar oud, toe ons op ‘n plaas buite Port Elizabeth gewoon het, en daar was varke en daar was karrie. My ouers het ‘n stywe paraffienblik vol karrie aan die gang gehad, toe hulle die nuus kry dat Oupa en Ouma van Tsitsikamma kom kuier. Hulle het nie gehou van alkoholiese drank nie en die nuus van die kuier het groot konsternasie in ons huishouding veroorsaak, met die gevolg dat die blik karrie toe gou-gou vir die gelukkige varke gevoer is.

En daar sit hulle toe ook op hul hurke in die hok. Lekker getrek, en baie amoreus as gevolg daarvan, maar kan met die beste wil en voornemens ter wêreld nie opstaan nie.

(*) Serfontein, Jozua. 2006. Tsitsikamma: Stories oor sy mens en dié kontrei. Observatory: Lotsha Publications. “Karrie”, pp. 263-282.

Saturday, June 8, 2013

NAGMAAL TOE MET DIE OSSEWA

My pa - Sollie Kemp, wat nou 84 is - het in die Tsitsikamma grootgeword. Toe ons klein was, het hy ons baie stories vertel, onder andere van hoe hulle met die ossewa uit die Tsitsikamma na Kareedouw gekom het vir nagmaal.

Ek het hom weer daaroor uitgevra, want ek sit hier met Jozua Serfontein se boek oor die Tsitsikamma (sien Voetnota 1), waarin ek in die hoofstuk "Kareedouw en sy mense" lees hoe die onstaan van Kareedouw om die kerk geskied het. Dit het my eie herinnneringe aan die ou stories wakker gemaak. Serfontein het my pa se uitgawe van sy boek geteken op 27 Oktober 2006 en daarby geskryf: " Met my beste wense en lekker herinneringe van lank gelede."
Photo: Laurette's Photoblog
(http://laurette.aminus3.com/)

Dit raak al hoe langer gelede. My eie herinneringe raak ook al hoe langer gelede. Ek was vanaf Sub A (wat laankal Graad I geword het) tot Standerd 2 in Laerskool Witelsrivier, by Kwaaibrand in die Tsitsikamma (wat toe nog met 'n "z" gespel was). Sedertdien het ons van pond na rand en kilogram oorgeslaan en het Ceylon na Sri Lanka verander. Ek wil nie eens praat van al die straat- en plekname in die land wat verander het nie

Herinneringe het egter nie 'n einde nie. My pa vertel hulle het elke drie maande vier dae afgestaan het om met die ossewa Kareedouw toe te kom vir die nagmaalgeleentheid. My oupa het vir bosbou gewerk, maar bosbouwerknemers, wat normaalweg ook Saterdae gewerk het, het ook afgekry. Witte Strydom-hulle (Miekie en Francois se pa) het met muilewaens vanaf Brandekraal uit die Kouga gekom. Ander het met donkiekarre gekom.


Dit was 'n hele uittog. Vrydag vanaf die plaas by Elandsrivier - met die melkkoei genaamd Vrydag ook ingespan saam met die osse (swart en wit vlekke, skraal ou koeitjie, nie eintlik sterk nie, maar sy moes ook trek, want sy moes saam vir melk). Hoenderhokke is onderaan die wa vasgebind om te sorg vir vleis vir die naweek.

Daar is oornag uitgespan in die laagte net voor jy oor die berg gaan. Saterdagoggend word die laaste steilte met vars uitgeruste osse aangepak. Die korter skof het tyd gelaat om kamp in te rig vir die naweek en inkopies doen op Kareedouw. Die waens het in die nagmaalbos agter die kerk en kerksaal uitgespan. Die naweek had 'n vol program: Saterdagaand was voorbereidingsdiens, Sondagoggend kinderdiens in die kerksaal, dan nagmaaldiens in die kerk, en Sondagaand die nabetragtingsdiens.

Maar dit was nie al nie. Daar is hoenders geslag en karrie gedrink. Daar is gekuier. Klink my daai nagmaalnaweke kon goed kers vashou by ons feeste wat vandag oral so gewild is. Geen wonder Miekie weet hoe om 'n worsfees (sien Voetnota 2) te hou nie. Sy voorsate het reeds klein-klein geleer hoe.

Elria van Rooyen se pa, Job Kemp, was toe ook nog maar 'n knapie en my pa vertel hoe Job en sy maters skelm die karrie bygekom het wanneer die grootmense in die nagmaaldiens was. 'n Mens kan jou net voorstel watter kattekwaad al die kinders by so 'n saamtrek uit heinde en verre aangevang het.

Die terugtog is Maandagoggend aangepak en moes in een dag afgelê word, want plaaswerksaamhede moes hervat word en Dinsdag  moes die bosboumense weer by die werk inval.

VOETNOTAS:

(1)  "Tsitsikamma - Stories oor sy mense en die kontrei", deur Jozua Serfontein (Lotsha Publications, Polostraat 58, Observatory, 2006. ISBN 1-920133-05-40).

(2)  Die Worsfees word jaarliks rondom Augustus gehou in die hoofstraat by Altelekker.

Tuesday, May 28, 2013

'N FEES VIR VROLIK WIP

Ek sit tussen die duiwel en die diep blou see, omdat ek tussen die Slaghuis, die slagpale en die slagkalwerkamp woon en ek 'n vegetariër is wat op die Worsfees van alle plekke gaan uitstal - waar my bure gemaal, gestop en gebraai gaan word.

Worsfees 2012 by Altelekker in Kareedouw se hoofstraat.
(Foto: Altelekker)
Dit laat my dink aan Anton Goosen se ou trefferliedjie, "Begrafnistyd  in Zeerust", waar Oom Willem vrolik saamwip in sy kis. Ek sal dit maar benader soos een van daai begrafnisse wat op 'n vrolikheid uitloop.

Voor die Worsfees was daar die Karriefees op Kareedouw, in die Oos-Kaap. Sou my ook niks gehelp het nie, want ek steek nie dop nie. Wel, daar is geen fees in die land sonder vleis en drank nie...

Miekie Strydom het die geleentheid het tien jaar gelede as 'n worsmaak-kompetisie by Kareedouw Slaghuis begin. Die Pers het dit later 'n fees gedoop. Die eerste keer het seker sowat honderd mense opgedaag. Verlede jaar was die perseel egter nie meer groot genoeg nie. Hulle moes oorskuif na Altelekker in die hoofstraat en tussen 2000 en 3000 mense het opgedaag. Miekie is kort na die 2013 Worsfees oorlede, maar die geleentheid word nog steeds deur die slaghuis geborg.

(Foto: Altelekker)


 (Foto: Altelekker).


Sunday, May 19, 2013

THE FRIENDLY TOWN

I moved to the town of Kareedouw on the R62 in the Langkloof  four months ago. I created this blog for the area about a week ago. I grew up in the area on a farm in the Tsitsikamma just on the other side of the mountain range against which the town is situated. Now it is time to publish a new post on this blog and I realise I have no idea about Kareedouw's history, even though you might say it has been my home town for all these years.

So I googled its history, but merely came across the usual tourism write-ups that try to make something of a very tiny town that is not well-known at all and seems to have no claim to fame. It used to host an annual Karrie (honey beer) Festival, but not anymore. So what is Kareedouw about, then?

I'll tell you what: It is about friendliness.

Having lived in cities for many years, good coffee, good food, lekker takeaways and adequate grocery shops are important to me. I haven't tried out all the local restaurants, but I am fine in the areas mentioned. I shall compliment businesses by name on other occasions whenever I can. But my first experience after moving here, is the friendliness of the people of Kareedouw - and their neighbourliness.

These qualities are not found everywhere. I have lived in two towns in different provinces that have disappointed me gravely in those areas, so much so that I have become rather paranoid about strangers and even about neighbours.

It is a relief to feel at home again.

I studied at the University of Port Elizabeth and then moved to Pretoria to work as translator of the SA Post Office headquarters. People used to stop me in the street to ask me where I was from, as I seemed too friendly to be from Pretoria.

Having visited PE again after moving here, I now realise that it is indeed the friendly city. I do believe that the Eastern Cape is the friendly province.

It is good to be home.



Sunday, May 12, 2013

AANGENAME KENNIS

Ek en my naaste het vanaf Krakeel in die Langkloof getrek na Kareedouw, wat aan die einde van die kloof op die R26 aan Port Elizabeth se kant lê. Ons het 'n paar jaar op Velddrif op die Weskus gebly (besoek gerus my Velddrif-blog by http://velddrifnews.blogspot.com/), maar wou ons eerder in hierdie area vestig, omdat ek oorspronklik van die Tsitsikamma is.

Vir my is dit 'n tuiskoms. Sedert ek hoërskool toe is, het ek rondgeswerf en na my studies op baie plekke gewerk as joernalis en vertaler en later as kunstenaar, boek-illustreerder en vryskut-taalkundige van my huis af (waar dit ook al was). Ek was so lank weg uit die omgewing, dat die bekendheid van alles na sowat 40 jaar vir my skoon vreemd is.

Plasings op hierdie blog is meesal in Afrikaans, maar soms ook in Engels, afhangende van die onderwerp en van die bron van inligting wat ek gebruik. Hoewel ek onder andere as vryskutvertaler en -joernalis werk, is dit nie genoeg vir iemand wat hou van skryf nie, daarom blog ek ook.